1 kg beesvleisblokkies
30 ml olie
15 ml botter
2 elk uie en knoffelhuisies, gekap
15 ml koekmeel
5 ml bruinsuiker
15 ml asyn
375 ml rooiwyn
200 ml vleisaftreksel
1 tak roosmaryn, 2 lourierblare, 3 takkies tiemie, 2 kruienaeltjies en 6 swartpeperkorrels, saamgebind in ’n stukkie kaasdoek
4 wortels, geskraap en in stukke gesny
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Gekapte, vars pietersielie, om oor te sprinkel

Voorverhit die oond tot 160 °C. Braai die beesvleisblokkies in lotte in die olie en botter bruin. Skep uit en hou eenkant. Braai die uie en knoffel in dieselfde pot tot gaar. Voeg die meel by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die suiker, asyn, rooiwyn, vleisaftreksel en kruiebondel by en verhit tot kookpunt.

Prut liggies vir 2 minute, terwyl jy roer. Skep die bruingebraaide vleis saam met die wortels in ’n oondvaste bak. Giet die rooiwyn-en-uiesous oor en geur alles met sout en peper. Bedek deeglik met foelie of met ’n styfpassende deksel en bak vir ongeveer 1½ tot 2 uur tot die vleis sag is. (Jy kan die gereg ook op die stoof oor lae hitte maak, maar jy sal gereeld moet roer om te keer dat die sous brand.)

Haal die kruiebondeltjie uit, geur die vleis na smaak met sout en peper en sprinkel vars pietersielie oor. Sit voor op rys, pap of koeskoes. Lewer 4-6 porsies.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.