• 30 ml botter
  • 1 groot ui, gerasper
  • 2 knoffelhusies, fyn gekap
  • 250 g gerookte snoek, vel en grate verwyder en baie fyn gevlok
  • 5 ml kerriepoeier of seekosmasala
  • Sap en fyngerasperde skil van
  • 1 klein suurlemoen
  • 30 ml mayonnaise
  • 30 ml room
  • 45 ml fyngekapte, vars pietersielie
  • Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • 1 rol (250 g) fillodeeg
  • 180 ml gesmelte botter of olyfolie

Smelt die botter in ’n pan en voeg die ui en knoffel by. Braai stadig, oor lae hitte, tot sag en gaar. Voeg die gerookte snoek en kerriepoeier (of seekosmasala) by. Braai vir ’n paar minute tot deurwarm en geurig.

Voeg die suurlemoensap en -skil, mayonnaise, room en pietersielie by en laat prut, terwyl jy roer, tot deurwarm. Geur na smaak met sout en peper. Laat die vulsel afkoel tot kamertemperatuur.

Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ’n paar bakplate met bakpapier uit.

Haal die fillodeeg uit die verpakking en rol dit op ’n werkoppervlak oop. Sit die velle presies op mekaar en sny elke vel deeg in die lengte in vier eweredige stroke. Werk met drie stroke vir elke samoesa. Hou die res van die deeg bedek met ’n klam teedoek om te keer dat dit uitdroog.

Verf elk van die drie stroke deeg baie liggies met botter of olyfolie en stapel die stroke op mekaar. Skep ’n lepel van die snoekvulsel aan die bopunt van die strook deeg en vou een van die boonste hoekies van die deeg skuins oor die vulsel sodat dit ’n driehoek vorm. Herhaal nou die vouproses met die res van die stroke deeg sodat jy ’n stewige, netjiese driehoek het.

Verf die samoesa bo-op liggies met botter of olie en sit dit op die bakplaat. Herhaal die proses met die res van die deeg en die vulsel.

Bak die samoesas vir ongeveer 15 minute tot die deeg goudbruin en bros is. Laat effens afkoel en sit louwarm voor met vonkelwyn of mengeldrankies.

Lewer 15 samoesas

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.