Ek gebruik gewoonlik 1 pakkie (100 g) mikrogolfspringmielies vir hierdie hoeveelheid. As jy gesoute springmielies hiervoor gebruik, gebruik net die helfte van die sout in die karamel, of laat dit heeltemal uit.

  • 125 g botter
  • 250 ml ligbruinsuiker
  • 45 ml water
  • 2 ml seesoutvlokkies
  • 1 ml koeksoda
  • Ongeveer 6 x 250 ml (6 koppies) voorbereide springmielies

Voorverhit die oond tot 100 °C en voer een of twee bakplate uit met bakpapier. Spuit liggies met kleefwerende kossproei. Verhit die botter, suiker en water stadig oor lae hitte, terwyl geroer word, tot ’n gladde sous sonder enige suikerkristalle. Verhit verder, tot kookpunt, en prut vir sowat 5 minute sonder om te roer.

Sodra die karamelsous ’n mooi goue kleur het (nie te donker nie), verwyder die kastrol van die hitte en voeg die soutvlokkies en koeksoda by. Klits tot glad. Giet die sous oor die voorbereide springmielies in ’n groot mengbak. Meng goed met twee houtlepels sodat al die springmielies van die karamelsous daarop het.

Skep die springmielies op die voorbereide bakplaat(e) en bak vir ongeveer 30 minute. Gee die springmielies elke 10 minute ’n roer sodat dit eweredig bak en karamelliseer. Haal uit die oond, laat afkoel en breek die groter stukke kleiner.

Lewer 6 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.