Die tradisionele Argentynse manier is om melk, suiker en ’n bietjie koeksoda lank en stadig oor baie lae hitte te prut, terwyl aanhoudend geroer word, tot ’n dik, gekaramelliseerde smeer. (Hulle noem dit dulce de leche.)

Dié moeitevrye kortpadmetode is die een wat ek graag gebruik en hier doen die oond eintlik al die werk. As jy een keer hierdie melkkaramel geproe het, sal jy sorg dat daar altyd ’n paar blikkies kondensmelk in jou kombuiskas is. Gebruik melkkaramel soos jy gekookte kondensmelk sal gebruik – as vulsel, as versiersel, of om net so met die lepel uit die fles te eet.

  • 2 blikkies (385 g elk) volroomkondensmelk
  • 5 ml seesoutvlokkies (nie growwe sout nie)
  • Kookwater

Voorverhit die oond tot 200 °C. Giet die kondensmelk in ’n oondvaste glasbak (ek gebruik altyd ’n Pyrex-skottel). Bedek lugdig met foelie en sit die bak se deksel bo-op. Sit die bak in ’n oondskottel en giet kookwater in die skottel, rondom die glasbak, tot die bak met kondensmelk driekwart in die bak met kookwater staan.

Sit die bak versigtig in die oond en bak vir 2 uur, sonder om die bak oop te maak of die karamel te roer. Haal ná 2 uur die bak uit die oond, lig die glasbak uit die kookwater en laat staan vir 10 minute voor jy die deksel en foelie afhaal.

Voeg die seesoutvlokkies by en klits goed met ’n draadklitser (die karamel teen die kante van die bak sal donkerder wees as dié in die middel). Skep die melkkaramel in gesteriliseerde glasflessies en bêre dit in die yskas vir tot 1 maand.

Lewer ongeveer 400 ml melkkaramel

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.