Die sous is fantasties oor boerewors, frikkadelle, pasta of op pizza. Hou dit in ’n fles in die yskas en gebruik soos nodig. Gebruik die rypste, rooiste tamaties wat jy kan kry hiervoor – dit maak ’n groot verskil aan die geur. 

Bestanddele

1 kg ryp, rooi tamaties, gehalveer (of gebruik kersietamaties)
1 knoffelbol, middeldeur gesny 5 cm vars gemmer, in skywe gesny
2 takkies roosmaryn
3 takkies vars oreganum
3 takkies vars tiemie
60 ml olyfolie
Seesout en vars gemaalde swartpeper
5 ml bruinsuiker
500 ml water

Voorverhit die oond se roosterelement. Rangskik die tamaties, knoffel, gemmer, roosmaryn, oreganum en tiemie op ’n bakplaat en bedruip met olyfolie. Geur mildelik met sout en peper. Sit die bakplaat in die oond en rooster tot die tamaties se skille gebars het en dit begin swart raak. Teen dié tyd sal die kruie, knoffel en gemmer ook goed gerooster wees. Skep alles op die bakplaat (ook alle pansouse) in ’n kastrol en voeg die bruinsuiker en water by.

Verhit tot kookpunt en prut die sous vir ongeveer 20 minute, terwyl nou en dan geroer word. Haal die kruietakkies uit en verpulp die sous met ’n staafmenger. Geur vir oulaas na smaak met sout, peper en dalk ’n ekstra knippie suiker. Giet dit deur ’n sif in ’n gesteriliseerde fles en verseël. Bêre in die yskas. Lewer ongeveer 750 ml sous