¦ 625 ml (ongeveer 500 g) heerenbone, geweek

¦ 375 ml ligbruinsuiker

¦ 200 ml bruinasyn

¦ 2 ml sout

¦ 5 ml mosterdpoeier

¦ Knippie witpeper, of na smaak

¦ Sout na smaak

Dreineer die geweekte boontjies en sit dit in ’n groot kastrol. Bedek die boontjies met genoeg vars water. Verhit tot kookpunt en bedek die kastrol. Kook die boontjies tot dit net sag is, dit moenie al pap of stukkend gekook wees nie.

Skep ’n bietjie van die kookwater uit die kastrol en meng dit met die bruinsuiker, bruinasyn, sout, mosterdpoeier en ’n bietjie witpeper en sout. Roer tot die suiker opgelos is en voeg dan die mengsel by die bone in die kastrol.

Laat die sousbone prut tot die sous so dik soos vars skinkroom is. (Die sous moenie te dik wees nie, want wanneer dit afkoel, verdik dit heelwat.) Bottel, verseël en laat afkoel. Lewer 2 groot flesse sousboontjies.

Week jou bone só

Kitsweekmetode

Sit die bone in ’n groot kastrol en sit dubbeld die hoeveelheid skoon water by. Verhit dit baie stadig tot kookpunt. Sit die plaat af, sit die deksel op en laat dit vir ’n uur week.

Maak seker daar is nog genoeg water in die kastrol sodat die bone behoorlik bedek is. Dreineer die bone, sit dit terug in die kastrol en bedek weer met skoon water. Laat dit stadig kook tot gaar.

Langweekmetode

Week die bone vir 4-5 uur in skoon water. Dreineer, voeg genoeg vars water by en laat dit stadig kook tot die bone gaar is.