• 1 kg koekmeel
  • 5 ml sout
  • 15 ml anyssaadjies
  • 10 ml kaneel
  • 5 ml neutmuskaat
  • 5 ml fyn gemmer
  • 2 pakkies (20 g) kitsgis
  • 310 ml witsuiker
  • 250 g botter, gesmelt
  • 1 ekstragroot eier, geklits
  • Ongeveer 750 ml warm water

Meng die meel en ander droë bestanddele saam in ’n groot skottel. Roer die gesmelte botter, eier en warm water saam in ’n maatbeker. Voeg dit koppie vir koppie by die droë bestanddele, terwyl jy meng, tot ’n sagte deeg vorm (dit sal dalk nie nodig wees om al die vloeistof by te voeg nie).

Keer die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en knie dit goed, vir ongeveer 10 minute, tot glad en elasties en die deeg nie meer aan jou hande vassit nie. Sit die deeg in ’n groot, gesmeerde skottel, bedek losweg met ’n teedoek of plastiek en laat op ’n warm plek rys tot die deeg in volume verdubbel het.

Smeer twee middelslagbroodpanne met botter. Knie die deeg af en verdeel die bol deeg in twee ewe groot stukke. Verdeel nou elke stuk deeg in 10-12 ewe groot stukkies en rol elke stukkie deeg in ’n bolletjie. Pak die bolletjies deeg styf teen mekaar in die gesmeerde panne en bedek weer losweg. Laat rys die deeg tot die panne vol gerys is.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Bak die beskuit vir ongeveer 45 minute, tot goudbruin en deurgaar. Laat effens afkoel, keer uit en breek die bolletjies los van mekaar. Breek elke bolletjie in 3-4 kleiner stukke. Droog uit teen 80 °C-100 °C tot goed uitgedroog.

Laat afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.

Lewer 5 dosyn beskuit

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.