Pampoenkoek

1 kg pampoen, in blokkies gesny

1 kaneelstokkie

40 ml water

3 eiers, geskei

220 g suiker

30 ml (2 e) heuning

30 ml (2 e) donker rum

25 g koekmeel

50 g mielieblom

Rum-en-heuningjogurt

150 ml room

200 ml Griekse jogurt

10 ml (2 t) rum

50 ml heuning

Vir die pampoenkoek: Kook die pampoen en kaneelstokkie in die water tot sag. Dreineer enige water en plaas eenkant om af te koel. Verwyder die kaneelstokkie. Meng in ’n voedselverwerker tot ’n fyn en gladde puree.

Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n 24 cm-koekpan met botter of spuit met kleefwerende kossproei.

Meng die eiergeel en suiker, en klits tot liggeel. Voeg die heuning by en klits tot goed gemeng. Roer die rum en pampoen by die eiermengsel in. Sif die koekmeel en mielieblom saam en roer by die mengsel in. Roer goed. Klits die eierwitte tot styf en vou liggies by die mengsel in.

Gooi die beslag in die gesmeerde koekpan. Bak vir 40 minute tot gaar. Laat vir 10–15 minute afkoel. Keer uit op ’n draadrak en laat heeltemal afkoel.

Vir die rum-en-heuningjogurt: Klits die room tot dik. Voeg die Griekse jogurt by en klits saam tot gemeng. Voeg die rum en heuning by en meng goed.

Lewer 4 porsies