250 ml koekmeel

250 ml polenta of growwe geelmieliemeel

15 ml bakpoeier

20 ml suiker

180 ml sterk cheddarkaas, fyngerasper

5 ml paprika

250 ml bevrore of blikkie mielies (ontdooi of gedreineer)

10 ingelegde pikantrissies (PeppadewsTM), goed gedreineer en fyngesnipper

330 ml melk

50 ml witasyn of suurlemoensap

1 ekstragroot eier, geklits

45 ml olie of gesmelte botter

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n middelslag-broodpan of spuit met kleefwerende kossproei. Voer die pan met ’n reep bakpapier uit en smeer of spuit weer. Meng die koekmeel, polenta, bakpoeier, suiker, kaas en papri- ka goed saam.

In ’n ander bak, meng die mielies, pikantrissies, melk en asyn of suurlemoensap, geklitste eier en olie (of gesmelte botter) saam. Voeg by die droë bestanddele en roer tot goed gemeng.

Skep die beslag in die pan (maak die pan sowat driekwart vol) en bak vir ongeveer 1 uur of tot die brood goudbruin en deurgaar is.

Laat vir 10 minute in die pan afkoel en keer op ’n draadrak uit. Sit louwarm of teen kamertemperatuur voor met botter en kaas.

Lewer 1 middelslagbrood (sowat 12 snye)