Beslag

100 g sagte botter

310 ml strooisuiker

5 ml vanieljegeursel

2 ekstragroot eiers

180 ml klapperroom

60 ml rum

1 blik (440 g) fyn pynappel in stroop

500 ml koekmeel

7 ml bakpoeier

2 ml elk koeksoda en sout

165 ml geroosterde klapper

Klapper-en-rum-botterversiersel

250 g sagte botter

4 x 250 ml versiersuiker, gesif

30 ml elk klapperroom en rum

60 ml suiker

Ekstra geroosterde klapper, om af te rond

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 2 standaardgrootte kolwyntjiepanne uit met papiervormpies. Spuit die binnekant van elke papiervormpie liggies met kleefwerende kossproei.

Verroom die botter, strooisuiker en vanieljegeursel goed saam tot lig en romerig. Voeg die eiers by en klits goed. Voeg die klapperroom en rum by, gevolg deur 125 ml van die fyn pynappel. Klits goed. Voeg die meel, bakpoeier, koeksoda, sout en geroosterde klapper by en meng goed.

Verdeel die beslag eweredig tussen die 24 papiervormpies en bak vir ongeveer 16-20 minute, of tot die koekies deurgaar is. Laat die kolwyntjies vir ongeveer 5 minute in die panne afkoel, voor dit versigtig uitgehaal en op ’n draadrak gepak word om verder af te koel tot kamertemperatuur.

Verroom die botter en versiersuiker vir die versiersel goed saam. Meng die klapperroom en rum en voeg dit bietjie vir bietjie by die mengsel, terwyl aanhoudend geklits word, tot ’n sagte maar smeerbare versiersel. Verkoel vir ’n rukkie en skep dan die versiersel in ’n spuitsak. Versier elke koekie daarmee en hou eenkant.

Skep die orige fyn pynappel (met stroop en al) in ’n pan en voeg die 60 ml suiker by. Verhit, terwyl geroer word, tot die suiker opgelos is en kook dan vinnig tot die mengsel afgekook en effens stroperig is, maar nie te dik nie (jy wil nie konfyt maak nie).

Laat die pynappel afkoel tot kamertemperatuur en rond elke kolwyntjie met ’n klein skeppie daarvan af. Sprinkel geroosterde klapper oor en sit voor.

Lewer 24 kolwyntjies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.