Palm Maree is wyd bekend in die Oos-Vrystaat vir sy vernuf agter die kospotte — veral as ’n man wat weet hoe om vleis gaar te maak. Hy en sy vrou, Daleen, is ’n gedugte span in die kombuis. Palm sit sy afval voor met stampmielies, pampoenkoekies en geroosterde beet.

1 volledige afval, goed skoongemaak

1 skaapnek, in stukke gesaag

125 ml asyn

60 ml braaisout

15 ml elk kerriepasta en borrie

125 ml gladde appelkooskonfyt

60 ml bruinsuiker

750 g baba-aartappels, gehalveer

Sny die afval in stukkies, sit dit in ’n kastrol en bedek met water.Verhit tot kookpunt, gooi die water af en bedek weer met vars water. Verhit tot kookpunt en kook nou die afval tot dit sag is, maar nog nie van die bene af val nie.

Terwyl die afval kook, kook die skaapnek in ’n aparte kastrol in water (of aftreksel) tot die vleis van die bene af val. Verwyder die skaapnek se bene en sny die vlesi in stukkies. Voeg die gaar skaapnek by die gaar afval. Meng nou die asyn, braaisout, kerriepasta, borrie, appelkooskonfyt en suiker saam en voeg by die afval en skaapnek saam met die aartappels.

Verhit tot kookpunt en laat saggies prut tot die aartappels sag en die afvalgeurig is met ’n lang sous. Lewer 6 porsies.

Stampmieliegereg

1,5 kg stampmielies

500 g spekvleis, gesnipper

500 g (2 pakkies) sampioene, fyn gesnipper

150 g botter

3 pakkies (50 g elk) wit uiesoppoeier

150 ml room

750 ml melk

2 blikke ingedampte melk

6 x 250 ml gerasperde cheddarkaas

Week die stampmielies oornag in water. Dreineer en kook in skoon water tot sag en lymerig. Terwyl die stampmielies kook, braai die spek en sampioene in ’n eetlepel of twee van die botter tot gaar. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smelt die res van die botter in ’n kastrol en voeg die uiesoppoeier, room, melk en ingedampte melk by. Verhit tot kookpunt en prut saggies vir ’n paar minute.

Smeer ’n groot oondbak. Skep ’n laag stampmielies in die bak, gevolg deur ’n lagie van die spek en sampioene en dan ’n lagie van die sous. Sprinkel ’n lagie kaas oor en herhaal die lae. Eindig met ’n laag kaas. Bak vir ongeveer 30 minute tot die gereg deurwarm en die kaas gesmelt is. Sit voor as bykos by ‘n braai, of saam met afval. Lewer 12 porsies.