’n Plaastroue met regte, egte boerekos is die beste sort troue. Só glo die Barnard-gesin van Dejema in die pragtige Waboomskraal-streek.

Hier in die Suid-Kaap, tussen die Karoo en die see, het Dean en Carla Barnard ’n suksesvolle plaas-onthaallokaal, Oppie Plaas, op hul familieplaas tot stand gebring. En regte, egte boerekos, op die boeremanier gemaak, is dan ook wat gaste daar kan verwag.

Die hegte Barnard-gesin bestuur die besigheid as ’n spanpoging.

Elma Postma (middel) kook by die onthaallokaal Oppie Plaas op die plaas Dejema in die Waboomskraal-streek saam met Elize Janse van Rensburg (links) en Mariana Barnard.

Carla tree op as onthaalkoördineerder en sit hand by in die kombuis. Dean se ma, Mariana, is ’n beplanner en kok van formaat. Sy het vir 15 jaar ’n suksesvolle konfytbesigheid bedryf, wat sy gesluit het om haar volle steun aan die onthaallokaal te gee.

Saam met haar goeie vriendin Elize Janse van Rensburg maak hulle al die kos vir elke geleentheid. Die manne in die familie staan reg as hul hulp met enigiets benodig word.

Oppie Plaas is bekend vir die beste hoenderpastei, varknek en skaapboud. Maar waarvan die gaste op troues eenvoudig nie genoeg kan kry nie, is hul pampoenkoekies met karamelsous. Hulle maak ’n allemintige 7 000 pampoenkoekies per jaar vir gesellighede!

’n Ander trefferresep is Elize se heerlike kerrie-afval, ’n resep van haar ma. “Ek het by die beste geleer hoe om afval te maak,” sê Elize. “En ek kan ’n afval silwerskoon skraap. Dis baie belangrik en só het my ma my ook geleer.”

Aangesien Elma so lief is vir kerrie-afval, het hulle besluit om dit vir haar voor te berei. Daarmee saam maak Mariana nóg ’n familie-gunsteling – ’n gestolde beetslaairing. Perfekte pasmaats!

Kerrie-afval

¦ 2 kg heel skaapafval, goed skoongemaak

¦ 4 steranys-sade

¦ 6 kardemompeule

¦ Sout en peper na smaak

¦ 60 ml bruinsuiker

¦ 2 kerrie-aftrekselblokkies

¦ 10 ml matige kerriepoeier

¦ 60 ml olyfolie

¦ 2 middelslag-uie, grof gesny

¦ 5 ml borrie

¦ 5 ml masala

¦ 5 ml komyn

¦ 4 lourierblare

¦ 5 middelslag-aartappels

¦ 60 ml gladde appelkooskonfyt

¦ 60 ml asyn

¦ 60 ml blatjang

Sit die afval in ’n groot kastrol en voeg die steranys, kardemom, sout en peper, suiker, kerrie-aftrekselblokkies en die helfte van die kerriepoeier by. Voeg net genoeg water by om die afval te bedek en verhit tot kookpunt.

Kook lank en stadig, vir ’n hele paar uur, tot die afval baie sag is. Verhit die olyfolie in ’n ander kastrol en voeg die uie by. Braai vir ’n paar minute en voeg die res van die kerriepoeier, asook die borrie, masala, komyn en lourierblare by. Braai vir ’n paar sekondes tot geurig.

Voeg die gaargekookte afval uit die ander kastrol saam met nog ’n bietjie water by die gebraaide uiemengsel. Voeg ook die aartappels by en geur met nog ’n bietjie sout. Kook vir ongeveer 15 minute. Meng die appelkooskonfyt, asyn, blatjang en bruinsuiker en voeg dit ook by.

Kook vir nog ’n paar minute tot die sous heerlik dik en geurig is. Sit voor met stampmielies en soetpampoen.

Lewer 6 porsies. 

Plaaskombuis word Woensdae om 18:30 op Via (kanaal 147 op DStv) uitgesaai.