Op die Venters se familieplaas, Kruis, waar hulle hoofsaaklik met sitrus boer, het Suzanne Venter ’n ou stal wat uit 1849 dateer, omskep en ’n stoep aangebou om ’n eetplek – Die Stal – te open.

“Ek het nog nooit weer teruggekyk nie. Die locals is goed vir my en ek is dol oor my klante, wat gewoonlik jaar ná jaar terugkom,” vertel sy.

Sy kook met oorgawe, sonder om haar te steur aan kilojoules en diëte. Uit die kombuis word gul werfborde met tuisgebakte brood, koue vleise en allerlei tuisgemaakte piekels en konserf gedra, ook stewige snye romerige biltong-en-groenvyekaaskoek en dekadente, stroperige sjokoladekoek met dik ganache – smullekker.

Resep: Sjokoladekoek

 

Beslag

375 ml botter of margarien

350 g gerasperde donker sjokolade

9 eiers

500 ml koekmeelblom

30 ml bakpoeier

5 ml sout

 

Stroop

600 ml sagte bruinsuiker

440 ml water

 

Versiersel

100 ml room

400 g heelneutsjokolade, gekap

 

Voorverhit die oond tot 180 C en spuit ‘n kleefvrye ringkoekpan liggies met kleefwerende kossproei. Smelt die botter of margarien en donker sjokolade saam tot glad. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout bo-oor en meng goed. Giet in ‘n gesmeerde ringkoekpan en bak vir ongeveer 30 minute, of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.

Terwyl die koek bak, verhit die sagte bruinsuiker en water saam tot die suiker opgelos is. Verhit verder, tot kookpunt, en prut liggies vir 10 minute. Skep die warm stroop oor die koek sodra dit uit die oond kom en laat die koek dan afkoel voor dit uitgekeer word.

Smelt die room en sjokolade stadig saam oor lae hitte tot glad. Skep oor die koek en laat staan tot die versiersel gestol is.

Lewer 14 porsies.