•  250 ml koekmeel
  • 2 ml koeksoda
  • 2 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 125 g sagte botter
  • 125 ml witsuiker
  • 125 ml ligbruinsuiker
  • 1 eier
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 250 ml pofrys (soos Rice Krispies)
  • 250 ml hawermout
  • 125 ml klapper

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n paar bakplate uit met bakpapier. Spuit liggies met kleefwerende kossproei. Meng die meel, koeksoda, bakpoeier en sout saam in ’n groot bak. Verroom die botter, witsuiker, ligbruinsuiker, eier en vanieljegeursel in ’n ander bak en voeg dit by die droë bestanddele saam met die pofrys, hawermout en klapper.

Meng goed tot die pofrys en hawermout eweredig deur die deeg versprei is. Verkoel die deeg tot ferm. Rol die deeg in bolletjies, pak op die bakplate en druk liggies plat met jou vingerpunte. Bak vir 10-12 minute tot strooikleurig. Haal die bakplate uit die oond.

Laat die koekies vir ’n paar minute op die bakplate afkoel (die koekies sal nog sag wees) tot dit ferm genoeg is om met ’n eierspaan of paletmes af te lig tot op ’n draadrak. Laat die koekies afkoel tot kamertemperatuur voor jy dit in ’n lugdigte houer bêre.

Lewer ongeveer 7 dosyn koekies.