Aarbei-en-kruisement-verfrisser

  • 125 g ryp aarbeie, gesnipper
  • 45 ml vars kruisementblare, gewas en grof gekap
  • 60 ml jenewer (gin)
  • 500 ml sodawater

Sit al die bestanddele saam in ’n drankiemenger of voedselverwerker. Verpulp tot glad. Vul drie glase met ys en verdeel die drankie tussen die glase. Rond af met vars kruisementblare en sit dadelik voor.

Lewer 3 drankies.

Alkoholvrye pons

Sorg altyd dat jy ’n paar interessante, alkoholvrye drankies aanbied by ’n partytjie. Hierdie heerlike drankie is ’n goeie opsie.

1 liter appelsap

1 liter gemmerlim

1 liter sodawater

80 ml maraschino-kersies of grenadellapulp

Ys, skyfies suurlemoen en vars kruisement, om voor te sit

Meng die sap, gemmerlim en sodawater net voor opdiening liggies saam. Voeg die kersies of grenadellapulp by en giet dit in glase oor ys. Rond af met skyfies suurlemoen en vars kruisement.

Lewer 12-15 drankies.

Pynappel-en-mango-mojito

  • 1 pynappel, geskil, skoongemaak en stronk verwyder
  • 30 ml strooisuiker
  • 2 mango’s, geskil en in blokkies gesny
  • 60 ml vars kruisementblare
  • 125 ml ligte rum
  • Ys
  • Sodawater, limonade of gemmerlim, om op te vul
  • Ys en vars pynappelstukkies

Sit die pynappel, strooisuiker, mangoblokkies en kruisementblare in ’n voedselverwerker en pols tot dit ’n gladde puree is. Voeg die rum by en meng. Giet die vrugtepulp in ’n beker met ys en vul met sodawater, limo- nade of gemmerlim. Rond af met vars pynappelstukkies. Geniet yskoud.

Lewer 4 drankies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.