’n Mens loop dikwels resepte vir pyn- appelpoffertjies raak wat met ingemaakte pynappel gemaak word, maar hierdie weergawe, met vars pynappel en ’n bietjie tiemie, is vir my soveel lekkerder. Jy kan die poffers as nagereg voorsit met ’n skep geklopte room of vanieljeroomys daarby.

Poffers

310 ml bruismeel

5 ml bakpoeier

15 ml strooisuiker

Knippie sout

2 ekstragroot eiers

30 ml melk

100 g gladde maaskaas

5 ml vanieljegeursel

200 g vars pynappel, baie fyngekap

2 ml vars, fyngekapte tiemieblaartjies

Olie, vir braai

Rumkaramel

125 ml suiker

60 ml water, plus ekstra skeut kookwater

Halwe vanieljepeul, saadjies uitgeskraap

30 ml donker rum

Poffers: Meng die bruismeel, bakpoeier, strooisuiker en sout saam in ’n bak. Klits die eiers, melk en maaskaas saam in ’n afsonderlike bak en roer die vanieljegeursel, pynappelstukkies en tiemie by. Voeg die eiermengsel by die droë bestanddele en meng goed tot ’n gladde, dik beslag.

Braai lepels vol van die mengsel in ’n pan met matige warm olie tot goudbruin en deurgaar. Skep die poffers met ’n gaatjieslepel uit en dreineer op kombuispapier.

Rumkaramel: Verhit die suiker en water stadig oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Voeg die vanieljepeul en -saadjies by. Verhit tot kookpunt en prut tot die mengsel ’n goue karamelkleur kry.

Voeg ’n klein skeut kookwater by om die karamelliseringsproses te stop en laat die karamel weer een keer vinnig opkook. (Die karamel moenie dik wees nie, eerder ’n dun stroop, sodat dit oor die poffertjies gedrup kan word. As dit te dik is, voeg nog kookwater by en laat weer vinnig deurkook voor jy die rum byvoeg.)

Sodra die karamel reg is, verwyder van die hitte en voeg die rum by (versigtig, dit sal opborrel). Laat staan die karamel vir ’n paar minute en sit voor met die poffertjies.

Lewer 24 poffertjies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.