Deeg

  • 5 x 250 ml witbroodmeel
  • 1 pakkie (10 g) kitsgis
  • 30 ml suiker
  • 7 ml sout
  • 2 ekstragroot eiers
  • 60 ml olie
  • 500 ml louwarm water
  • 2 knoffelhuisies, baie fyn gekap

Rissie-en-knoffelbotter

  • 200 g botter, gesmelt
  • 2 groen brandrissies, pitte verwyder en fyn gekap
  • 3-5 knoffelhuisies, baie fyn gekap
  • 5 ml fyngekapte, vars roosmaryn
  • Vars gemaalde swartpeper na smaak

Smeer 2 middelslagbroodpanne liggies met botter of spuit met kleefwerende kossproei. Meng die droë bestanddele vir die brood saam in ’n groot mengbak. In ’n ander bak, klits die eiers, olie, water en knoffel saam en voeg dit by die droë bestanddele terwyl jy meng, tot ’n sagte deeg vorm.

Knie die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak vir ongeveer 10 minute, tot glad en elasties. Sit die bol deeg in ’n gesmeerde bak, bedek losweg en laat rys op ’n warm plek tot die deeg verdubbel het in volume. Terwyl die deeg rys, berei die rissie-en-knoffelbotter: Verhit die gesmelte botter, brandrissies, knoffel, roosmaryn en swartpeper tot kookpunt.

Verwyder van die hitte en laat afkoel. Wanneer die deeg goed uitgerys is, knie dit af en vorm ongeveer 24 ewe groot bolletjies. Doop elke bolletjie deeg in die afgekoelde bottersous en pak die botterbedekte bolletjies teen mekaar in die broodpanne.

Bedek elke pan en laat rys weer op ’n warm plek tot die panne volgerys is. Voorverhit die oond tot 190 °C. Verf die bolletjies deeg vir oulaas bo-op met die orige bottersous en bak vir sowat 40 minute tot uitgerys, goudbruin en deurgaar. Keer uit die panne en sit die rolletjies louwarm voor by braaivleis, sop of saam met botter, kaas, olywe en ander lekkernye.

Lewer 24 rolletjies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.