Hulle noem dit cassoulet. Hierdie kasserol se geure herinner my aan dié gereg, maar dit word met basiese bestanddele gemaak en is binne net 30 minute gaar.
  • 15 ml olyfolie
  • 8 groot varkworsies
  • 6 repe spek, dun gesny
  • 1 ui, dun gesny
  • 2 preie, goed gewas en dun gesny
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 3-4 murgpampoentjies, gesnipper
  • 125 ml witwyn
  • 1 blik (410 g) gekapte tamaties
  • 250 ml hoenderaftreksel
  • Paar takkies vars tiemie
  • Paar takkies vars pietersielie, gekap
  • 1 blik (420 g) botterbone, gedreineer
  • 1 blik (420 g) suikerbone, gedreineer

Voorverhit die oond tot 180 °C. Verhit die olie in ’n oondvaste swaarboompot en braai die worsies en spek daarin tot gaar. Voeg die ui, preie en knoffel by en braai tot sag.

Voeg die murgpampoentjies by en braai tot gaar. Voeg die wyn, tamaties, aftreksel, tiemie, pietersielie en bone by en verhit tot kookpunt. Prut vir 3-5 minute en sit die bak in die oond. Bak vir ongeveer 20-30 minute tot die sous geurig en verdik is. Sit voor met koeskoes, rys of kapokaartappels en slaai.

Lewer 4 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.