Hierdie heerlike slaai kan met appelkose, nektariens of pruime gemaak word, en later in die jaar ook met wiggies ryp pere. Dit kan as hoofgereg of as bykos geniet word.

  • 18 appelkose, gehalveer en ontpit
  • 60 ml olyfolie
  • 10 ml vars tiemieblaartjies, effens gekap
  • Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • 250 g goeie mozzarella
  • Paar stukke sagte (Deense) fetakaas
  • 3 hande vol roket en babaspinasie- blare
  • 24-30 stukkies dungesnyde parmaham of prosciutto
  • 100 ml gevlokte amandels, gerooster
  • Vars suurlemoensap en heuning, om af te rond

Sit die gehalveerde appelkose in ’n bak en voeg olyfolie en tiemie by. Geur met sout en swartpeper. Meng liggies en verkoel vir ’n paar minute.

Maak ’n riffelpan baie warm. Rooster die appelkose (met olie en tiemie op) baie vinnig sodat dit mooi roostermerke het. Skep uit die pan en laat eenkant afkoel.

Sny of breek die twee kase in happiegrootte stukkies en sit dit in die bak met die olie en tiemie. Roer deur om die kaas met die tiemie-olie te geur. Hou eenkant.

Verdeel die slaaiblare tussen ses borde of sit dit op ’n mooi, groot opdienbord. Rangskik die kaas en skaafsels ham op die blare, gevolg deur die geroosterde appelkose. Sprinkel geroosterde, gevlokte amandels oor.

As jy slaaisous wil maak, meng suurlemoensap, heuning en dalk ’n bietjie ekstra olyfolie in die bak waarin die kaas gemarineer het. Meng goed, geur met sout en peper en drup dit net voor ete oor die slaai. Maal swartpeper oor en sit voor.

Lewer 6 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.