Deesdae vier ons selfs Melktertdag in Suid-Afrika. Daar is eenvoudig iets aan ’n tert wat jou in ’n feestelike stemming plaas en jou om ’n kombuistafel wil laat kuier.

Kors

  • 1 x 400 g-pak bevrore skilferkorsdeeg, ontdooi

Vulsel

  • 3 rooibosteesakkies
  • 3 heel steranyssade
  • 900 ml melk
  • 60 ml heuning
  • 25 ml botter
  • 60 ml koekmeel
  • 120 ml mielieblom
  • 125 ml bruinsuiker
  • 3 eiers, geskei
  • 5 ml karamelgeursel
  • Kaneelsuiker, om oor te strooi

Voorverhit die oond tot 220 °C. Spuit ’n tertbord met kossproei. Voer die tertbord met die skilferkorsdeeg uit. Verhit die teesakkies, steranys, melk, heuning en botter in ’n kastrol tot kookpunt. Kook vir 10 minute oor lae hitte. Haal die kastrol van die plaat af en laat vir 5 minute staan.

Haal die teesakkies en steranys uit die melkmengsel. Plaas die kastrol terug op die plaat en verhit die melkmengsel oor lae hitte. Meng die meel, mielieblom en bruinsuiker. Giet 100 ml van die warm melkmengsel by die meelmengsel en meng goed. Voeg die eiergele en karamelgeursel by en klits tot ’n gladde pasta.

Roer die mengsel by die res van die 800 ml melk in die kastrol. Roer die mengsel gereeld, want dit brand maklik aan. Haal die kastrol van die plaat af wanneer die mengsel begin verdik. Klits die eierwitte styf en vou dit by die vulsel in.

Skep die vulsel in die rou tertkors. Bak vir 10 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 190 °C en bak vir nog 20 minute. Strooi kaneelsuiker oor.

Lewer 8 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.