250 ml volroommelk

125 ml suiker

180 ml botter

60 ml louwarm water

6 x 250 ml koekmeel

10 ml sout

1 pakkie (10 g) kitsgis

4 groot eiers

Ongeveer 45 ml melk

Verhit die melk, suiker, botter en water saam tot die suiker opgelos is. Verwyder van die hitte. Meng die meel, sout en gis saam in ’n bak. Klits drie van die eiers en voeg by die melkmengsel. Voeg bietjie vir bietjie by die meelmengsel, terwyl jy meng, tot ’n sagte deeg vorm.

Keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak en knie goed vir ongeveer 10-15 minute tot die deeg glad en elasties is. Smeer ’n mengbak met botter en sit die deeg daarin. Bedek met ’n klam doek en laat op ’n warm plek rys tot dubbel in volume. Knie die deeg af en verdeel in twee dele. Breek ’n derde van elke stuk af.

Vorm die twee groot bolle deeg en sit in twee goed gesmeerde panne. (Die broodpanne moet omtrent halfvol wees.) Rol die orige twee stukke deeg elk in ’n rol (effens langer as die lengte van die broodpan). Sny die rol in drie bene en vleg soos ’n koeksister. Druk die los punte teen die kante van die deeg in die pan en laat lê die vlegsel bo-op.

Laat rys tot die pan vol is en die vlegsel bo die pan uitstaan. Voorverhit die oond tot 180 °C. Klits die orige eier met ’n bietjie melk en verf daarvan oor die brode. Bak vir ongeveer 1 uur of tot die panne hol klink as jy met jou kneukels daarteen klop. Laat effens in die pan afkoel en keer uit op ’n teedoek. Draai die brood liggies toe en laat só verder afkoel.