• Olie, vir smeer
  • 50 g gemaalde amandels
  • 150 g gepelde amandels, gerooster
  • 150 g geroosterde haselneute, skilletjies afgevryf
  • 250 g donker sjokolade, gekap
  • 200 ml ligte bruinsuiker
  • 60 ml brandewyn
  • Sap en fyn gerasperde skil van 1 lemoen
  • 100 g sonneblomsaad, liggies gerooster en fyn gekap
  • 6 eiers, geskei
  • 250 ml bruismeel
  • 250 ml sjokoladeganache (sien “Kombuiswenk”)

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n koekpan van 24 cm goed met olie. Sprinkel die gemaalde amandels daarin en skud die pan sodat die bodem en kante goed met ’n egalige lagie gemaalde amandels bedek is. Kap die geroosterde amandels en haselneute grof en verwerk dit saam met die sjokolade in ’n voedselverwerker tot korrelrig.

Keer die mengsel uit in ’n mengbak en meng met die bruinsuiker, brandewyn, lemoensap en -skil en sonneblompitte. Roer die eiergele by. Sif die meel oor en vou in. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou versigtig by die beslag in. Giet in die voorbereide pan en bak vir 1 uur of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat in die pan afkoel en sit louwarm of teen kamertemperatuur voor met sjokoladeganache oorgesmeer.

Lewer 1 middelslagkoek.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.