Moenie die koek te lank bak nie, anders is dit geneig om droog te wees. Dit is gaar as die toetspen klam krummels aanhet wanneer jy die koek toets.

Beslag

  • 250 ml bruismeel
  • 5 ml kaneel
  • 2 ml neutmuskaat
  • 2 ml gemengde speserye
  • 5 ml bakpoeier
  • 40 ml kakao
  • 180 ml sagte bruinsuiker
  • 180 g sagte botter
  • 45 ml olie
  • 3 ekstragroot eiers
  • 5 ml vanieljegeursel

Spesery-botterversiersel

  • 200 g sagte botter
  • 500 ml gesifte versiersuiker
  • 10 ml gladde grondboontjiebotter
  • 3 ml kaneel
  • 1 ml gemengde speserye
  • 10 ml vanieljegeursel
  • Spatsel melk, indien nodig

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer twee koekpanne van 20 cm elk. Voer uit met bakpapier en smeer weer. Sif die droë bestanddele in ’n mengbak. Voeg die botter, olie, eiers en vanieljegeursel by en klits goed tot glad. Verdeel die beslag tussen die panne, smeer gelyk en bak vir ongeveer 25 minute, of tot die koek deurgaar is.

Laat vir ’n paar minute in die panne afkoel en keer dan uit op ’n draadrak om verder af te koel tot kamertemperatuur. Versiersel: Sodra die koek afgekoel is, klits die botter en versiersuiker saam tot glad. Voeg die res van die bestanddele by en klits goed. (As die versiersel effens dik lyk, voeg ’n spatsel melk by.)

Sny elke koeklaag middeldeur (om twee dunner lae te kry) en versier die koek tussen die lagies en bo-op met die versiersel. Sit voor met tee of koffie. Lewer 14 porsies