500 g stoweskaapvleis (met been), in stukkies gesaag

60 ml karringmelk of natuurlike jogurt

5 ml fyngekapte, vars knoffel

5 ml fyngerasperde, vars gemmer

3 ml sout

3 ml borrie

1 ml rooipeper

30 ml olie

1 kaneelstokkie

2 kardemompeule

2 uie, baie fyn gekap (of gerasper)

2 groen brandrissies, fyngekap

30 ml garam masala

250 ml kookwater, plus ekstra soos nodig

1 blik (410 g) tamatiepuree

30 ml fyngekapte, vars koljander

Sit die skaapvleisstukkies in ’n nie-metaalbak en voeg die karringmelk (of jogurt), knoffel, gemmer, sout, borrie en rooipeper by. Meng goed, bedek met kleefplastiek en laat marineer vir minstens 2 uur in die yskas. (Jy kan die vleis ook oornag in die yskas laat marineer.)

Haal die vleis 1 uur voor jy die kerrie wil maak uit die yskas en laat dit kamertemperatuur bereik.

Verhit die olie in ’n kastrol en braai die kaneelstokkie en kardemompeule daarin vir ’n paar sekondes. Voeg die uie, brandrissies en garam masala by. Braai tot geurig.

Voeg nou die skaapvleis (en al die marinade) by. Verhit tot kookpunt en laat vinnig kook, terwyl jy roer, vir ongeveer 10 minute. Voeg nou die water, tamatiepuree en koljander by en verhit tot kookpunt.

Draai die stoofplaat baie laag, bedek die kastrol en prut vir ongeveer 1½-2 uur of tot die vleis baie sag is. Kyk gereeld of daar nog genoeg vloeistof in die kastrol is en vul aan met kookwater soos nodig. Proe vir geur en voeg sout en dalk ’n knippie suiker by om die geure te balanseer.

Die kerrie se sous moet dik en geurig en die vleis baie sag wees. Sit voor op gestoomde rys of met roti’s en rond af met ’n komkommersalsa.

Lewer 4 porsies