Kors

  • 125 g botter, by kamertemperatuur
  • 1 eiergeel (behou die eierwit)
  • 350 ml koekmeel
  • 8 ml bakpoeier
  • 3 ml sout
  • 125 ml melk

Vlavulsel

  • 1 liter melk
  • 250 ml suiker
  • 15 ml botter of margarien

Meng die volgende bestanddele goed en hou gereed tot die melk kook:

  • 4 eiergele (behou die eierwitte)
  • 60 ml meelblom
  • 60 ml mielieblom
  • 250 ml melk
  • 3 ml sout
  • 2 ml amandelgeursel
  • Voeg die 4 eierwitte by 1 oorblywende eierwit van die kors (dus 5 eierwitte) en hou eenkant.

Smeerkors: Maak die botter sag en voeg die eiergeel daarby. Meng dit goed en voeg dan die meel, bakpoeier en sout by. Meng tot ’n krummelrige tekstuur. Voeg die melk by en meng tot ’n sagte deeg. Smeer die sagte deeg met die agterkant van ’n lepel in twee of drie tertborde om egalige korse te vorm.

Voorverhit die oond tot 200 °C. Verhit die melk, suiker en botter in ’n kastrol tot kookpunt. Roer ’n bietjie kokende melk by die eiergeelmengsel. Gooi terug by die res van die melk in die kastrol en verhit weer. Roer met ’n draadklitser oor matige hitte totdat die mengsel verdik en glad geroer is.

Laat kook vir 2 minute. Verwyder van die stoofplaat en voeg 2 ml amandelgeursel by. Klits intussen die 5 eierwitte tot dit sagte punte vorm, met ander woorde effens styf, maar nie te droog nie. Voeg die styfgeklopte eierwit by die vla en vou dit met ’n lepel in om goed te meng.

Verdeel die vulsel eweredig tussen die ongebakte tertkorse. Strooi fyn kaneel liggies oor die vulsel van die terte. Draai die oond af tot 180 °C en bak die terte vir 25-30 minute.