Hierdie maklike korslose tertjies smaak vorentoe as dit met ’n skeppie hummus afgerond en met ’n sagte eier en ’n paar repe agurkies voorgesit word. Dis ryk, lekker, warm en vullend – alles wat ’n ware winterontbyt moet wees.

Kekerertjiesmeer (hummus)

50 ml olyfolie

30 ml sesamsaad

1 blik (420 g) kekerertjies, gedreineer en afgespoel

Sap van 1 suurlemoen

1 knoffelhuisie, fyngekap

2 ml sout Water (opsioneel)

Sout en ekstra olyfolie na smaak

Snoektertjies

1 groot ui, fyngekap

45 ml olie of botter

30 ml koekmeel

250 ml melk

250 g gerookte snoek (vel en grate verwyder), fyngevlok

250 ml gerasperde cheddarkaas

4 groot eiers, geklits

250 ml suurroom

5 ml mosterdpoeier

15 ml fyngekapte pietersielie

Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Kekerertjiesmeer: Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die sesamsaad tot liggoudbruin. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Sit die kekerertjies, suurlemoensap, knoffel en sout in ’n voedselverwerker en pols vinnig tot dit grofgekap is. Voeg die olyfolie-en-sesamsaadmengsel by en verwerk verder tot glad (voeg ’n bietjie water by as die smeer te dik is).

Geur na smaak met sout en drup ’n bietjie olyfolie oor. Skep in ’n bak en verseël lugdig. Verkoel tot benodig, maar sit die kekerertjiesmeer teen kamertemperatuur voor.

Snoektertjies: Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer die holtes van ’n standaardgrootte muffinpan met olie. Braai die ui in die olie of botter tot sag. Sprinkel die meel oor en verhit, terwyl jy roer, tot dit borrel. Voeg die melk by en verhit tot kookpunt. Roer aanhoudend om te keer dat klonte vorm. Verwyder die sous van die hitte en roer die res van die bestanddele by.

Skep die mengsel in die gesmeerde muffinholtes (maak die holtes net meer as driekwart vol). Bak die tertjies vir ongeveer 20-25 minute tot dit goudbruin en ferm is. Laat vir 10 minute in die pan afkoel en maak die kante liggies los met ’n mes.

Keer uit en sit die tertjies warm of louwarm voor met ’n skeppie kekerertjiesmeer, ’n sagte eier en ’n paar repe agurkies.

Lewer 8 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.