1 kg ontbeende varknek of varkboud, in blokkies gesny

Sout en witpeper na smaak

80 ml mielieblom

125 ml ligte sojasous

15 ml vars gemmer, fyngerasper

2 knoffelhuisies, fyngedruk

Olie, vir braai

2 soetrissies, in repies gesny

1 ui, in dun wiggies gesny

1 blik (410 g) mangoskywe, gedreineer, maar behou die stroop

200 ml water

125 ml witasyn

60 ml tamatiepuree

100 ml suiker

30 ml worcestersous

30 ml soetrissiesous

Sit die varkvleisblokkies in ’n bak en geur met sout en witpeper. Sprinkel die mielieblom oor en meng goed deur. Meng die sojasous, gemmer en knoffel en giet oor die varkvleis. Meng goed deur en marineer vir 30 minute.

Terwyl die vleis marineer, verhit ’n bietjie olie in ’n diep pan of wok en roerbraai die soetrissies en ui vinnig daarin tot net sag. Skep uit en hou eenkant.

Braai nou die varkvleisblokkies in sarsies in nog ’n bietjie olie bruin (hou die bak met marinade eenkant). Skep die vleisblokkies uit en hou eenkant.

Giet die mangostroop, water, asyn, tamatiepuree, suiker, worcestersous en soetrissiesous in die bak waarin die varkvleis gemarineer het. Roer goed. Giet alles in die pan en verhit tot kookpunt. Kook vinnig tot die sous begin verdik.

Voeg die roerbraaigroente en gebraaide varkvleisblokkies by en prut vir ’n paar minute. Snipper die mangostukkies en voeg by. Sit dadelik voor op gestoomde witrys of noedels.

Lewer 6 porsies