My ma (wat dit by haar ma leer maak het) het ’n blitsresep daarvoor gehad wat sy binne tellings in haar Magimix-voedselverwerker aanmekaar geslaan het. Ek kan onthou hoe ek my verwonder het aan die poeding waarvan die sous bo-op dryf wanneer dit oond toe gaan en dan, wonderbaarlik, sit die sous aan die onderkant as dit uit die oond kom. Ek het my ma se resep effens aangepas en ’n skeut roomlikeur wat met brandewyn vermeng is, by die sous gevoeg. 

Beslag

100 g sagte botter

125 ml ligbruinsuiker

1 eier

5 ml vanieljegeursel

250 ml bruismeel

15 ml kakao

1 ml sout

80 ml melk

Sous

125 ml sagte bruinsuiker

15 ml kakao

250 ml kookwater

125 ml Amarula-likeur

5 ml vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 5-6 individuele oondvaste bakkies of een middelslagoondbak met botter of spuit met kleefwerende kossproei. Verroom die botter en suiker tot lig. Klits die eier en vanieljegeursel by en daarna die droë bestanddele en melk. Klits tot ’n gladde, dik beslag vorm.

Verdeel die beslag tussen die bakkies (of skep dit in die oondbak). Meng al die bestanddele vir die sous saam en verdeel dit ook tussen die bakkies (giet dit versigtig boop die beslag) of giet die sous oor die beslag in die oondbak. Bak vir 30 minute of tot die koeklaag bo-op deurgaar is en die sous teen die kante van die poeding borrel. Sit voor met roomys, geklopte room of vla. Lewer 5-6 porsies.