225 g gedroogde soutsnoek

60 ml (4 e) olyfolie

2 middelslag-aartappels, geskil en in blokkies gesny

1 middelslag-ui, geskil en fyngekap

1 groot knoffelhuisie, geskil en fyngemaak

20 ml (4 t) olyfolie

30 ml (2 e) vars pietersielie, fyngekap

1 groot eier, geskei

’n Knippie paprika

’n Knippie rooipeper

’n Knippie varsgemaalde swartpeper

Olie vir diepbraai

Om voor te sit

Mayonnaise van goeie gehalte

Suurlemoenwiggies

Sprietuie

Vir soutsnoekbolletjies: Plaas die soutsnoek in water in die yskas vir 24 uur. Vervang die water een keer tydens die 24 uur. Dreineer die snoek, spoel af en druk droog met kombuispapier.

Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas die snoek op ’n gesmeerde bakplaat, bedruip met die olyfolie en rooster in die oond vir 25 minute. Laat afkoel.

Plaas intussen die aartappelblokkies in ’n kastrol met soutwater. Kook vir 20 minute tot sag. Dreineer die aartappelblokkies en maak seker al die vloeistof is weg. Plaas die aartappelblokkies in ’n pan en verhit teen lae hitte. Sit eenkant.

Vlok die vis met ’n vurk. Maak die aartappelblokkies fyn en meng met die gevlokte vis. Soteer die ui en knoffel in die olyfolie oor matige hitte vir ongeveer 5 minute tot sag. Voeg die pietersielie by en verwyder van die hitte.

Meng die snoek-en-aartappelmengsel met die uie-en-knoffelmengsel. Voeg die eiergeel, paprika asook rooi- en swartpeper by. Klop die eierwit styf, vou by die snoekmengsel in, bedek en verkoel vir 1 uur.

Rol die snoekmengsel in okkerneutgrootte bolletjies. Giet die olie in ’n pan en verhit dit tot ongeveer 160 °C. Voeg die snoekbolletjies in sarsies in die olie en braai tot gaar.

Om voor te sit: Sit die snoekbolletjies met mayonnaise, suurlemoenskyfies en sprietuie voor.

Lewer 4 porsies as voorgereg