• Olie, vir braai
  • Halwe chorizowors (ongeveer 125 g), gesnipper
  • 200 g beesfilet
  • Sout en vars gemaalde swartpeper
  • 10 ml Dijonmosterd
  • ‘n Skeut witwynasyn en olyfolie
  • 500 g kersietamaties, gehalveer
  • 1 rooi en 1 geel soetrissie, in blokkies gesny
  • 2 hande vol babaspinasieblare
  • Vars suurlemoensap

Verhit ’n bietjie olie in ’n pan en braai die chorizostukkies daarin tot bros. Skep uit en hou eenkant.

Geur die beesfilet met sout en peper en vryf goed in met mosterd. Braai die filet in dieselfde pan (en olie) as waarin die chorizo gebraai is tot goudbruin buite-om, maar nog liggaar. Haal die vleis uit die pan en bedek. Laat die vleis vir minstens 15 minute rus voor die filet in dun skyfies gesny word. Hou eenkant.

Voeg ’n skeut asyn by die vleissouse in die pan en laat dit vinnig opkook, terwyl die boom van die pan geskraap word. Voeg ’n skeut olyfolie by. Giet die warm slaaisous oor die skyfies filet en die gebraaide chorizo en hou eenkant.

Sit die helfte van die kersietamaties saam met die soetrissies in die pan en drup ’n bietjie olyfolie oor. Verhit tot die groente begin braai, en braai liggies tot die tamaties en soetrissies net sag begin raak. Geur met sout en peper, en hou eenkant.

Skep die souserige steak en chorizo net voor ete op ’n bed babaspinasieblare. Voeg die vars kersietamaties by die gebraaide tamaties en soetrissies en skep dit oor die vleis. Drup ’n bietjie vars suurlemoensap oor en geur weer met sout en peper indien verkies. Sit dadelik voor.

Lewer 2-4 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.