Ek het ’n blik lietsjies in stroop in my spens gehad en het dit gebruik vir hierdie poeding, maar geblikte appelkose, swartkersies, pere of selfs gemengde, ingelegde vrugte werk goed.

1 blik (410 g) ingelegde vrugte van jou keuse

250 ml suiker

80 g botter

1 ekstragroot eier

250 ml koekmeel

12 ml bakpoeier

2 ml sout

125 ml melk of room

5 ml vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n oondvaste bak met ’n inhoudsmaat van ongeveer 1,7 liter liggies met gesmelte botter, of spuit met kleefwerende kossproei.

Dreineer die ingelegde vrugte, maar behou die stroop. Giet die stroop in ’n maatbeker en vul dit aan met water tot 375 ml. Giet die stroop in ’n klein kastrol en voeg 125 ml van die suiker by die stroop. Verhit tot kookpunt, terwyl aanhoudend geroer word, en laat liggies prut vir 5 minute. Hou eenkant.

Verroom die botter en orige 125 ml suiker goed saam tot lig en romerig. Voeg die eier by en klits goed. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout oor en voeg die melk of room en vanieljegeursel by. Meng tot ’n gladde, dik beslag.

Skep die beslag in die voorbereide oondbak en smeer gelyk. Skep die gedreineerde vrugte bo-op en gebruik ’n soplepel om die stroop versigtig op die poeding te skep. Bak die poeding 30-40 minute tot goudbruin en deurgaar. Sit warm voor met vla of roomys.

Lewer 6 porsies

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.