Die lekkerte van die resep is dat jy die koek vir 2-3 maande in jou vrieskas kan hou, en die meringue bly bros. Jy sny net snye af soos jy dit nodig kry, bedek en vries weer die res. Koop gerus winkelmeringue, maar maak jou eie suurlemoensmeer hiervoor.

Suurlemoensmeer

¦ 120 g botter

¦ Sap van 4 suurlemoene

¦ 4 eiers

¦ 250 ml suiker

¦ 8 gekoopte meringuenessies of 24 standaardgrootte meringues, grof gebreek

¦ 2 liter goeie vanieljeroomys, effens saggemaak

Belangrik: Maak eers die suurlemoensmeer en laat dit goed afkoel voor jy die roomys uit die vrieskas haal om sagter te word.

Verhit die botter, suurlemoensap en suiker saam oor lae hitte tot die suiker gesmelt is. Klits die eiers en voeg dit by die louwarm suurlemoenmengsel. Hou aan klits terwyl jy die mengsel verder verhit, tot kookpunt. Prut, terwyl jy roer, vir 2-3 minute tot verdik en gaar. Laat afkoel tot kamertemperatuur, bedek en verkoel tot jy die roomyskoek wil maak. Smeer ’n koekpan van 20 cm met olie of spuit met kleefwerende kossproei.

Skep bolle roomys en lepelsvol suurlemoensmeer afwisselend met stukke meringue in die koekpan. Verdig die roomys, smeer en meringues met ’n houtlepel in die pan om te keer dat daar openinge tussen-in is. Herhaal die proses tot ál die bestanddele opgebruik is. Bedek met kleefplastiek en vries oornag. Keer uit op ’n opdienbord en sny in skywe. Sit voor met aarbeie in vanieljestroop of ander vars vrugte waarvan jy hou. Lewer 12 porsies.