Kors 

1 pakkie (200 g) Marie- of Tennisbeskuitjies, goed fyngemaak

125 g botter, gesmelt

Vulsel

2 blikkies (385 g elk) volroomkondensmelk

6 groot eiers (by kamertemperatuur), geskei

250 ml vars suurlemoensap (sap van ongeveer 6 groot suurlemoene)

180 ml strooisuiker

1 ml kremetart

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n losboomkoekpan van 22 cm met botter. Meng die beskuitjiekrummels en botter goed saam en druk die mengsel op die boom en teen die kante van die pan vas.

Vulsel: Meng die kondensmelk en eiergele goed saam. Voeg die suurlemoensap by en klop die mengsel tot glad en dik. (Vir suurder tert, gebruik meer suurlemoensap.) Giet die mengsel in die pan en bak vir 10 minute. Haal die tert uit die oond. Klits die eierwitte tot skuimerig, voeg die kremetart by en klits tot sagte punte vorm.

Voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits tot ál die suiker bygevoeg en die mengsel dik en blinkwit is. Skep die meringue op die tertvulsel en versprei egalig. Bak vir nog 10 minute tot die meringue goudbruin bo-op is. Haal uit die oond, laat in die pan afkoel tot kamertemperatuur, en maak die klamp versigtig los. Lewer 12 porsies.