Koek

125 g sagte botter

250 ml strooisuiker

Sap en fyngerasperde skil van 1 groot suurlemoen

10 ml vanieljegeursel

375 ml bruismeel

1 ml sout

125 ml karringmelk

Stroop

80 ml suurlemoensap

60 ml strooisuiker

Mousse

15 ml gelatien

60 ml koue water

3 eiers, geskei

180 ml strooisuiker

125 ml vars suurlemoensap

10 ml suurlemoenskil, fyngerasper

250 ml room, styfgeklop

Koek: Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n losboomveerklamppan van 26 cm. Verroom die botter, strooisuiker, suurlemoensap en -skil en vanieljegeursel goed saam. Sif die bruismeel en sout oor en voeg die karringmelk by. Meng goed.

Skep die beslag in die pan en smeer gelyk. Bak die koek vir ongeveer 35-45 minute of tot ’n toetspen skoon uit die koek kom.

Stroop: Verhit die suurlemoensap en strooisuiker saam oor lae hitte tot kookpunt. Prut vir 1-2 minute en hou eenkant.

Sodra die koek gaar is, prik dit met ’n toetspen en skep die stroop oor. Laat die koek afkoel tot kamertemperatuur. (As die koek nie egalig gerys het nie, maak die klamp los en lig die ring versigtig af. Sny die koek bo-op gelyk met ’n skerp broodmes, sit die ring weer terug en maak die klamp vas.)

Mousse: Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan om te spons. Klits die eiergele en die helfte van die strooisuiker baie goed tot dik en liggeel.

Smelt die gelatienmengsel in die mikrogolf tot helder (moet dit nie laat kook nie) en voeg die gelatien by die eiermengsel saam met die suurlemoensap en -skil. Meng goed en hou eenkant.

Klits nou die eierwitte in ’n skoon, droë bak tot sagte punte vorm en voeg die res van die strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits tot dik en blink. Vou dit saam met die geklopte room by die suurlemoenmengsel in.

Giet die mousse oor die stroopdeurdrenkte koek tot die pan vol is. Sit dit in die yskas om te stol.

Opsioneel: Jy kan die koek bo-op verder versier met geklopte room waarby jy ’n paar lepels suurlemoensmeer (sien resep op bladsy 65) ingevou het, as jy wil.

Lewer 14-16 porsies