• 375 ml gemaalde amandels
  • 190 ml koekmeel
  • 7 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 180 ml olie
  • 250 ml suiker
  • Sap en fyngerasperde skil van 1 groot suurlemoen
  • 3 ekstragroot eiers

Versiersel

  • 250 ml versiersuiker, gesif
  • Sap en fyngerasperde skil van 1 groot suurlemoen

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n middelslagbroodpan met olie of spuit met kleefwerende kossproei. Voer uit met bakpapier en smeer of spuit weer. Meng die gemaalde amandels, koekmeel, bakpoeier en sout saam in ’n mengbak. Klits die olie, suiker, suurlemoensap en -skil en die eiers in ’n ander bak tot lig en dik.

Voeg die eiermengsel by die droë bestanddele en meng tot ’n dik skepbeslag vorm. Skep in die pan en bak vir sowat 60 minute, tot die broodjie deurgaar en goudbruin is. Laat vir sowat 5 minute in die pan afkoel voor jy die broodjie uitkeer op ’n draadrak om verder af te koel, tot kamertemperatuur.

As die broodjie afgekoel is, sit die draadrak bo ’n bakplaat. Meng die versiersuiker en suurlemoenskil goed. Voeg die suurlemoensap druppel vir druppel by terwyl jy roer tot jy ’n smeerbare, gladde versiersel kry (wees versigtig om té veel sap by te voeg en die versiersel te dun te maak).

Smeer die versiersel oor die afgekoelde broodjie en laat dit teen die kante afloop. Laat staan op die draadrak tot die versiersel hard geword het en bêre dan die broodjie in ’n koekblik of ander lugdigte houer.

Lewer 1 middelslagbrood

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.