• 4 T-beensteaks, teen kamertemperatuur
  • Olyfolie
  • Seesout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • Roosmaryn-en-knoffelbotter
  • 120 g gesoute botter, teen kamertemperatuur
  • 1 knoffelhuisie, fyn gedruk
  • 5 ml roosmarynblaartjies, baie goed fyn gekap
  • Vars gemaalde swartpeper

Berei die roosmaryn-en-knoffelbotter minstens 3 uur voor die steak gaargemaak word. Klop die botter met ’n houtlepel tot lig. Smelt ’n halwe teelepel van die botter in ’n klein kastrolletjie en braai die knoffel daarin oor baie lae hitte tot die botter geurig is, maar die knoffel moenie verkleur nie.

Verwyder van die hitte en voeg die roosmaryn by. (Die effense hitte sal die vlugtige olies in die kruie vrystel wat vir selfs beter geur sal sorg.) Voeg ’n bietjie swartpeper by. Voeg die knoffel-, kruie- en pepermengsel by die botter en klop goed tot deurgemeng en lig.

Skep die gegeurde botter in ’n bakkie, bedek en verkoel tot benodig, maar haal die botter ongeveer 15 minute voor etenstyd uit die yskas. Bedruip die steaks liggies met olyfolie en smeer dit goed in elke steak in. Geur elke steak liggies met sout en peper net voor dit gaargemaak gaan word.

Maak ’n swaarboom-riffelpan baie warm sonder enige olie of botter daarin. Sit elke steak op sy (vet)kant in die vuurwarm pan neer en braai vir minstens 1 minuut. Sit nou die steaks plat neer en braai vir 2-3 minute aan elke kant, tot goudbruin en gaar na smaak. Verwyder van die hitte, laat rus die vleis vir ’n minuut of twee en sit voor met ’n skeppie van die roosmaryn-en-knoffelbotter, skyfies en groente of slaai.

Lewer 4 porsies.