¦ 250 ml vrugtekoekmengsel (rosyne, korente, dadels, sitrusskil, glanskersies), fyner gekap

¦ 45 ml brandewyn

¦ 560 ml bruismeel

¦ 5 ml bakpoeier

¦ 30 ml strooisuiker

¦ Knippie sout

¦ 80 g botter, in blokkies gesny

¦ 1 eier

¦ 60 ml melk

¦ 60-100 ml water

¦ Eier-en-melkmengsel, om bo-oor te verf

Verhit die vrugtekoekmengsel en brandewyn oor lae hitte tot kookpunt. Bedek en prut vir 2 minute. Verwyder van die hitte en laat staan vir 15 minute, of tot die vrugte tot louwarm afgekoel het.

Voorverhit die oond tot 200°C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Spuit liggies met kleefwerende kossproei.

Meng die meel, bakpoeier, strooisuiker en sout goed saam. Voeg die botter by en vryf dit met jou vingerpunte by die droë bestanddele in. Klits die eier, melk en water saam en voeg dit by die droë bestanddele saam met die vrugtemengsel. Meng tot ’n deeg.

Keer die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel besprinkel is. Druk die deeg platter en druk klein botterbroodjies uit met ’n teeskondrukker. Pak op die bakplaat en verf ’n dun lagie van die eier-en-melkmengsel oor elke botterbroodjie. Bak vir ongeveer 10-12 minute, tot goudbruin en deurgaar. Lewer 20 klein teeskons.