Antoinette Roos, die eienaar, het dit uit vyf verlate plaaswerkershuisies opgebou tot die padstal op steroïde wat dit vandag is – eintlik ’n winkelsentrum in die kleine.

Die middelpunt is haar restaurant en geskenkwinkel. By The Cabin word ektragroot skons voorgesit met botter, kaas, biltong en nastergalkonfyt – so lekker en vullend, dis ’n ete op sy eie!

¦ 250 g sagte botter

¦ 2 ekstragroot eiers

¦ 30 ml suiker

¦ 500 ml koekmeel

¦ Knippie sout

¦ 5 ml bakpoeier

¦ 125 ml fyngerasperde kaas

¦ 250 ml melk

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n muffinpan met ses ekstragroot holtes liggies met olie of spuit met kleefwerende kossproei.

Klits die botter, eiers en suiker goed saam. Meng die meel, sout, bakpoeier en kaas in ’n mengbak. Voeg die melk en die bottermengsel om die beurt by die droë bestanddele, terwyl jy dit met ’n paletmes insny, tot ’n baie sagte deeg vorm. (Wees versigtig om nie die mengsel te veel te meng nie.)

Skep die deeg in die pan en bak vir 30-35 minute tot uitgerys, goudbruin en deurgaar. Sit louwarm of teen kamertemperatuur voor. Lewer 6 ekstragroot skons.