Stroop

¦ 2,5 kg (10 k) witsuiker

¦ 1,25 liter water

¦ 10 ml gouestroop

¦ 10 ml suurlemoensap

Verhit die stroopbestanddele oor lae hitte, terwyl jy roer, tot al die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en kook vir 3 minute. Laat tot kamertemperatuur afkoel en verkoel oornag in die yskas tot yskoud. Die volgende oggend maak jy douvoordag jou deeg:

Deeg

¦ 750 ml koekmeel

¦ 20 ml bakpoeier

¦ 2,5 ml sout

¦ 15 ml botter

¦ 125 ml melk

¦ 125 ml warm water

¦ 5 ml asyn of suurlemoensap

¦ Olie, vir braai

Meng die meel, bakpoeier en sout en vryf die botter daarby in. (Jy kan dit in ’n voedselverwerker doen om tyd te spaar.) Maak suurmelk deur die melk, warm water en asyn (of suurlemoensap) te meng en roer dit geleidelik by die droë bestanddele in om ’n sagte deeg te vorm. (Voeg nóg ’n bietjie water by as die deeg te styf is.) Maak die deeg met ’n klam lap toe en laat vir 20 minute rus. Rol die deeg ongeveer 1 cm dik uit, sny in repe en vleg twee of drie repe saam om koeksisters te vorm. Braai in borrelende kookolie, keer die koeksisters om en braai ook aan die ander kant. Dreineer, dompel in die koue stroop en dreineer deeglik (op ’n draadrak oor ’n skinkbord of in ’n sif). Laat die koeksisters goed afkoel voor jy dit lugdig in die yskas bêre. Lewer 4 dosyn groot koeksisters.

Variasies: Deur die basiese resep effens aan te pas, kan jy heerlike variasies, soos hartsisters en suurlemoenstokkies, maak wat beslis jou buurvroue sal laat praat.