Probeer ’n slag hierdie tuna-weergawe – nommerpas vir ’n naweekmiddagete.

Vetkoeke

¦ 500 ml witbroodmeel

¦ 500 ml koekmeel

¦ 10 ml sout

¦ 10 ml suiker

¦ 1 pakkie (10 g) kitsgis

¦ 310-375 ml warm water

¦ Olie, vir braai

Tuna-en-avovulsel

¦ 2 blikke (170 g elk) tuna in water, goed gedreineer

¦ 100 ml goeie mayonnaise, of meer na smaak

¦ 125 ml fyngesnipperde komkommer

¦ 2 agurkies, gerasper

¦ Sout, ’n knippie suiker en vars gemaalde swartpeper

¦ 2 ryp avokado’s, geskil, ontpit en in klein blokkies gesny

¦ Skeut vars suurlemoensap

¦ Mespunt Engelse mosterd

¦ 500 ml gesnipperde blaarslaai, om mee voor te sit

Meng die meel, sout, suiker en gis in ’n bak. Voeg die water bietjie vir bietjie by en meng goed. Knie die deeg vir minstens 10 minute op ’n meelbestrooide oppervlak tot dit glad en elasties voel en nie meer aan jou hande vaskleef nie. Smeer ’n groot bak met olie en sit die deeg daarin. Smeer ook ’n bietjie olie bo-oor die deeg en bedek losweg met ’n klam teedoek of kleefplastiek. Laat die deeg op ’n louwarm plek rys tot dubbel die grootte.

Knie die deeg af. Rol dit in ’n lang ovaalvorm en verdeel in 8-12 vetkoeke. Plaas die vetkoeke op ’n gesmeerde bakplaat of skinkbord en laat weer vir sowat 30 minute rys. Verhit genoeg olie in ’n vlak kastrol tot warm en braai ’n paar vetkoeke op ’n slag. Draai om wanneer die een kant begin verbruin. Verlaag die olie se temperatuur en draai die vetkoeke nou en dan om. Braai tot deurgaar. Dreineer op kombuispapier.

Vir die vulsel: Meng al die bestanddele liggies saam en skep ’n goeie porsie daarvan saam met ’n paar lepels gesnipperde blaarslaai in die vetkoeke. Sit dadelik voor. Lewer 8-12 porsies.