Kors

2 pakkies (200 g elk) Tennisbeskuitjies, baie goed fyn gedruk

125 ml gesmelte botter

Vulsel

4 ekstragroot eiers

250 ml suiker

80 ml suurlemoensap

2 houers (200 g elk) roomkaas

1 houer (230 g) geroomde maaskaas

250 ml room

125 ml koekmeel

Grenadellasmeer

Halwe blik (ongeveer 125 ml) kondensmelk

45 ml suurlemoensap

Pulp van 2 ryp grenadellas, plus ekstra vir versiering

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n veerklamppan van 24 cm met gesmelte botter of spuit goed met kleefwerende kossproei.

Meng die beskuitjiekrummels en gesmelte botter baie goed saam (voeg nog ’n bietjie gesmelte botter by as die mengsel te droog lyk). Druk die mengsel stewig op die boom en teen die kante van die voorbereide pan vas.

Vir die vulsel: Klits die eiers goed en voeg die suiker lepel vir lepel by, terwyl jy aanhoudend klits, tot die mengsel dik en liggeel is en stadig in ’n lint afloop as jy die klitser uit die bak lig. Voeg die suurlemoensap by en klits deur. Sit die roomkaas, maaskaas, room en koekmeel in ’n voedselverwerker en pols ’n paar keer tot die mengsel heeltemal glad is.

Voeg die eier-en-suikermengsel by en pols weer ’n paar keer tot ’n gladde mengsel vorm. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak vir 12 minute. Verlaag nou die oondtemperatuur tot 140°C en bak die kaaskoek nog 55-65 minute of tot die buitekant van die koek ferm en die binnekant nog effens bewe as jy teen die pan tik. Skakel die oond af en maak die oonddeur op ’n skrefie oop.

Laat die koek in die oond afkoel vir minstens 30 minute en haal dit dan uit die oond om buite af te koel tot kamertemperatuur.

Vir die bolaag: Klits die kondensmelk en suurlemoensap saam tot verdik. Voeg die grenadellapulp by en meng goed. Verkoel vir 15 minute en smeer bo-op die kaaskoek. Hou die kaaskoek in die yskas, maar haal dit 30 minute voor jy dit wil voorsit uit. (Sit voor teen kamertemperatuur.) Lewer 1 groot kaaskoek (omtrent 14-16 porsies).

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.