Ek hou daarvan om die vleis eers vooraf in ’n aromatiese aftreksel gaar te prut en dit daarna teen ’n hoë temperatuur in die oond te rooster tot die vel krakerig en bros is. Ek gebruik weer eens appels in die gaarmaakproses – net omdat die twee so baie van mekaar hou.

¦ 1 heel ontbeende varklies, met vel

Aftreksel

¦ 2 kaneelstokke

¦ 2 repe lemoenskil

¦ 2 heel steranys

¦ 45 ml sojasous

¦ 45 ml heuning

¦ 10 ml heel swartpeperkorrels

¦ 4 heel wonderpeperkorrels

¦ Hand vol vars tiemie

¦ 4 knoffelhuisies

¦ 10 ml seesout

¦ 2 liter water

¦ Witasyn en sout

¦ 4 Granny Smith-appels, gehalveer

¦ Hand vol vars tiemie

Gebruik ’n vlymskerp mes om vlak insnydings, kruis en dwars, oor die vel van die vark te maak. Sit die varklies in ’n groot kastrol en voeg die res van die bestanddele vir die aftreksel by.

Verhit tot kookpunt, bedek die kastrol en prut die vleis oor lae hitte vir ongeveer 1 ½ uur, of tot sag. Haal die vleis uit die aftreksel en laat dit op ’n draadrak staan om droog te word en af te koel.

Voorverhit die oond tot 200°C. Gebruik ’n skoon lap en vryf die vel van die vark goed in met asyn. Vryf daarna ’n hand vol sout oor die vel. Vryf die sout goed in, ook in die gleufies van die insnydings.

Smeer ’n oondbak liggies met ’n bietjie olie en pak die appels (met die gesnyde kante na onder, sodat dit stewig staan) in die bak. Sprinkel die tiemie bo-oor. Laat lê die varklies op die appels en tiemie met die velkant na bo.

Oondrooster vir ongeveer 30 minute, tot die vel bros, opgepof en krakerig is. Laat die varklies vir ’n paar minute rus, sny en sit saam met die gebakte appels voor. Lewer 8 porsies.

Kombuiswenk

Maak ’n lekker sous om by die vark voor te sit deur ’n koppie van die aftreksel waarin die vleis gaargemaak is, vinnig af te kook tot dit met die helfte ingedamp is. Voeg ’n skeut room, ’n bietjie heelkorrelmosterd en ’n lepel heuning by en geur met sout en peper.