Jy kan dit meer tradisioneel voorsit en groter viskoekies maak, maar vir ’n warm aand is hierdie anderste slaai van klein viskoekies met avokado en slaaiblare heerlik. Die vars, tropiese slaaisous maak hierdie ete.

Viskoekies

500 g gaar witvis, sonder grate en fyngevlok OF 3 blikke tuna in water, goed gedreineer

1 geskilde, gaar aartappel, fyngedruk

45 ml fyngekapte koljanderblare of pietersielie

Sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen of lemmetjie

Sout en varsgemaalde swartpeper

15 ml botter

1 ui, baie fyn gekap of gerasper

5 ml kerriepoeier

310 ml vars broodkrummels

100 ml room

Olie, vir vlakbraai

Slaaiblare en 2 ryp avokado’s

Mango-brandrissiesous

1 groot, ryp mango, geskil en gesnipper

Sap van 2 groot lemmetjies

30 ml heuning

3 ml komyn

2 ml sout

80 ml olyfolie

45 ml fyngekapte, vars koljanderblare

Viskoekies: Meng die vis, aartappel, kruie en sitrussap en -skil goed saam. Geur met sout en peper. Hou eenkant.

Verhit die botter in ’n pan oor lae hitte en braai die ui en kerriepoeier saam tot die ui sag is. Voeg die broodkrummels en room by en roerbraai tot dit begin prut. Voeg by die vis-en-aartappelmengsel en meng baie goed. Verkoel tot stewig.

Rol die mengsel in balletjies en druk effens platter (sodat dit soos mini-viskoekies lyk). Vlakbraai tot goudbruin en bros aan albei kante.

Dreineer op kombuispapier en rangskik op borde met skywe ryp avokado en slaaiblare van jou keuse.

Mangosous: Verwerk al die bestanddele saam in ’n voedselverwerker of meng dit met ’n staafmenger tot ’n puree. Proe vir geur en voeg nog sout by indien nodig. Sit voor by die viskoekies en rond af met dungesnyde jalapeñorissies.

Lewer 4 porsies