Jy kan hierdie patee met enige gaar vis maak, maar snoek, geelstert en forel werk fantasties.

Bestanddele

250 g gaar of gerookte vis, vel en grate verwyder
Sap van ’n halwe suurlemoen
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
1 x 200 g-houer ongegeurde roomkaas
15 ml tamatiesous
30 ml mayonnaise
2 gerasperde agurkies
1 middelslag-wortel, geskraap en fyn gerasper
250 ml room
Olyfolie, vars suurlemoen en kappertjiebessies, om voor te sit

Vlok die vis fyn en verwerk dit baie vinnig saam met die suurlemoensap, sout, peper, roomkaas, tamatiesous, mayonnaise, gerasperde agurkies en gerasperde wortel in ’n voedselverwerker tot net goed gemeng (nie té fyn nie). Klop die room styf en vou by die patee in. Skep in ’n geskikte bakkie, drup ’n bietjie olyfolie oor en sit voor met wiggies vars suurlemoen en kappertjiebessies. Lewer 10 porsies.