Hier is vyf wat vinnig en maklik is om te maak, maar beslis nie lank sal hou nie...
Jogurttert
Gebruik dieselfde geur jellie as jogurt vir hierdie resep. As jy die tert 'n ander geur wil gee, gebruik ongegeurde vingerbeskuitjies en pas die konfyt by die geur van die jogurt aan.
2 pakke vingerbeskuitjies, aarbeigeur
2 pakkies aarbeijellie
500 ml kookwater
500 ml aarbeijoghurt
1 blik kondensmelk
250 ml room, geklop
Bo-laag
250 ml aarbeikonfyt
Pak 1 pak beskuitjies in 'n enkellaag op die bodem van 'n gesmeerde tertbord. Maak die jellie met die kookwater aan en laat afkoel tot louwarm. Klits die jogurt en kondensmelk by en verkoel tot kamertemperatuur. Vou die room in. Skep die vulsel op die beskuitjies en maak gelyk. Verkoel tot stewig en pak die res van die vingerbeskuitjies bo-op. Smelt die aarbeikonfyt tot glad en skep 'n lagie bo-op die beskuitjies. Verkoel tot benodig.
Lewer een middelslagtert.
Variasie: Jy kan die tert met 'n Tennisbeskuitjie-krummelkors maak. Rooster dan klapper liggies in die oond of in 'n pan en laat afkoel. As die tert gestol is, sprinkel dit bo-oor.
Gemmer-roomtert
Die tert is taamlik sag omdat dit geen gelatien inkry nie. Maak dus seker die peerskyfies is goed ge-dreineer, anders kan dit loperig wees.
Kors
1 pakkie gemmerkoekies, fyn gedruk
100 ml botter, gesmelt
15 ml goue- of esdoringstroop
Vulsel
1 blik (380 g) karamelkondensmelk
1 blik (410 g) peerhalwes
250 ml pekanneute, gekap
60 ml ingelegde gemmer, fyn gekap
250 ml room
Skep ongeveer 45 ml koekiekrummels uit en hou eenkant. Meng die koekie-krummels, botter en stroop goed saam. Druk dit op die bodem en halfpad teen die kante van 'n losboomkoekpan van 25 cm vas. Verkoel vir 10 minute. Skep 30 ml van die karamelkondensmelk uit en hou eenkant. Klits die orige karamelkondensmelk tot glad en smeer oor die beskuitjiekors. Verkoel weer vir 10 minute. Dreineer intussen die peerhalwes goed en sny in dun skyfies. Druk die peerskyfies goed droog met kombuispapier. Rangskik die peerskyfies op die karamellaag en sprinkel die gekapte neute en gemmerstukkies oor. Klits die room en die 30 ml karamelkondensmelk saam tot styf en smeer bo-oor die tert. Verkoel tot benodig. Sprinkel ekstra gekapte neute en die orige gemmerkoekiekrummels bo-oor. Verkoel tot benodig.
Lewer een middelslagtert.
Koekstruiftert
Meer nagereg as tert, maar dis een manier om almal se gunsteling-Kersfeespoeding dwarsdeur die jaar te eet.
1 konfytrol, in 7 mm dik skywe gesny
60-125 ml sjerrie
Vulsel
200 g geroomde maaskaas
100 ml strooisuiker
15 ml gelatien
45 ml kookwater
250 ml dik vla
180 ml groenvyekonserf, in stukkies gesny
250 ml pekanneute, grof gekap
Pak die snye konfytrol styf teen mekaar in 'n tertbak van 20 cm x 30 cm. Sprinkel sjerrie oor en laat staan vir 'n paar minute. Meng die maaskaas en suiker saam. Los die gelatien in kookwater op en roer by. Verkoel tot gestol. Maak intussen dik vla van 250 ml melk, 45 ml vlapoeier en 30 ml suiker en laat stol. Skep lepelsvol van die maaskaasmengsel en lepelsvol van die vla, groenvye en neute afwisselend op die koekbasis. Laat stol tot ferm en sit voor.
Lewer een groot tert.
Karamelkaaskoek
Kors
2 pakkies Tennisbeskuitjies, fyn gedruk
2 ml kaneel
125 ml gesmelte margarien
Vulsel
2 houers geroomde maaskaas
1 houer karamelkondensmelk
60 ml Ierse roomlikeur
1 pakkie vanieljekitspoeding
1 blik ingedampte melk, yskoud
30 ml gelatien
60 ml kookwater
gevlokte amandels of sjokoladekrulle
Meng die bestanddele vir die krummelkors saam en druk dit op die bodem van 'n tertbord van 20 cm x 40 cm vas. Verkoel tot benodig. Klits maaskaas, karamelkondensmelk en roomlikeur saam. Maak poeding met ingedampte melk aan en verkoel tot styf. Los gelatien in kookwater op tot heeltemal glad en roer by karamelmengsel. Vou kitspoedingmengsel in en meng tot glad. Giet in die krummelkors en verkoel. Sprinkel gevlokte geroosterde amandels oor, of versier met sjokoladekrulle.
Lewer een groot tert.
Vlatert
Jy het net 'n klein bietjie kondensmelk vir die kors van dié tert nodig. Skep dit sommer uit die blik wat jy gebruik vir die bo-laag.
Kors
1 pakkie klapperkoekies, fyn gedruk
50 ml botter, gesmelt
45 ml kondensmelk
3 ml kaneel
Vulsel
500 ml melk
15 ml botter
60 ml vlapoeier
45 ml suiker
Knippie sout
Bo-laag:
1 blik kondensmelk
100 ml suurlemoensap
1 blikkie grenadella-pulp
Meng al die bestanddele vir die kors saam en druk dit op die bodem van 'n gesmeerde tertbord van 30 cm x 20 cm vas. Verkoel tot benodig. Vir die vulsel: Verhit 400 ml van die melk en die botter saam tot net onder kookpunt. Meng intussen die vlapoeier, suiker en die res van die melk saam tot 'n pasta vorm. Voeg van die warm melk by die vlapasta en roer tot goed gemeng. Gooi alles terug in die kastrol en verhit oor lae hitte, terwyl geroer word, tot kookpunt. Laat prut liggies tot verdik en gaar. Giet die warm vla op die krummelkors. Laat afkoel tot gestol. Klits die kondensmelk, suurlemoensap en grenadellapulp saam en laat staan eenkant. As die vla heeltemal koud is, skep die kondensmelkmengsel bo-oor en maak gelyk. Verkoel tot benodig.
Lewer een groot tert.
Teken HIER vir ons kosnuusbrief in en ontvang elke twee weke ‘n gratis nuusbrief met heerlike resepte en artikels.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier