1 middelslag- gerookte varkskenkel

2 liter water

750 g waterblommetjies, goed skoongemaak

45 ml olyfolie

2 groot uie, gekap

3 knoffelhuisies, fyngekap

2 groot aartappels, geskil en in klein blokkies gesny

Kookwater of hoenderaftreksel

Sap van 1 groot suurlemoen

250 ml room

Neutmuskaat, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Sit die varkskenkel in ’n kastrol en bedek met die 2 liter water. Verhit tot kookpunt en prut stadig, tot die vleis van die been af val. Terwyl die varkskenkel gaar prut, verhit die olyfolie in ’n kastrol. Braai die uie daarin tot sag. Voeg die knoffel, waterblommetjies en aartappelblokkies by en braai tot die waterblommetjies halfgaar is.

Haal die varkskenkel uit die water. Giet die water waarin die skenkel gekook is in ’n maatbeker en vul dit met kookwater of hoenderaftreksel aan tot 2 liter. Voeg dit by die waterblommetjies en ander groente in die kastrol. Verhit weer tot kookpunt en prut die sop tot al die groente sag is.

Pluis intussen die varkskenkelvleis fyn en voeg dit ook by die sop. Kook goed deur. Verpulp met ’n staafmenger en roer die suurlemoensap deur. Voeg nou die room by en geur na smaak met neutmuskaat, sout en varsgemaalde swartpeper.

Lewer 6 porsies.