¦ 8 groot varkworsies van goeie gehalte

¦ Kookwater

¦ 2 middelslag-eiervrugte, in blokkies gesny

¦ 15 ml sout

¦ 30 ml olyfolie

¦ 2 uie, in wiggies gesny

¦ 4 knoffelhuisies, fyn gekap

¦ ’n Blik (410 g) kersietamaties in sap

¦ Halwe blik water

¦ ’n Blik (440 g) rooi nierbone, gedreineer

¦ ’n Blik (440 g) botterbone, gedreineer

¦ 5 ml paprika

¦ Sout, peper en ’n knippie suiker

Pak die varkworsies in ’n groot pan en giet die kookwater oor. Verhit tot kookpunt, bedek die pan en stoom die worsies tot liggaar. Dreineer en hou eenkant.

Sit die eiervrugblokkies in ’n bak en sprinkel die sout oor. Skud die bak liggies om seker te maak dat die sout egalig versprei is. Laat staan vir 10 minute en spoel af. Dreineer goed en druk droog met kombuispapier.

Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die uie daarin tot goudbruin. Voeg die eiervrugblokkies en knoffel by en braai vir sowat vyf minute. Voeg die tamaties, water, bone en paprika by. Verhit tot kookpunt, geur met sout, peper en ’n knippie suiker en laat prut vir sowat 5 minute.

Verhit die oond tot 180°C. Skep die eiervrug-en-bonemengsel in ’n oondbak en skep die worsies bo-oor. Bedek met foelie en bak vir 20 minute. Haal die foelie af en bak vir ongeveer 15 minute, tot die worsies goudbruin en die sous dik en geurig is. Sit voor op koeskoes, krummelpap of rys. Lewer 6-8 porsies.