500 ml koekmeel

10 ml koeksoda

5 ml sout

5 ml kaneel

500 ml suiker

310 ml olie

4 eiers

500 ml wortels, fyn gerasper

250 ml ingemaakte, fyn pynappel, goed gedreineer

250 ml okkerneute, fyn gekap

250 ml pekanneute, fyn gekap

30 ml gemmerstukke in stroop, fyn gekap

Pynappelblomme

1 ferm pynappel, goed skoongemaak en alle ogies uitgesny

Roomkaasversiersel

100 g sagte botter

500 ml versiersuiker, gesif

300 g (een en ’n halwe houer) ongegeurde roomkaas ¦ 60 ml esdoringstoop (maple syrup)

Koek: Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer twee koekpanne van 20 cm of ’n groot ringkoekpan en voer uit met bakpapier of bestuif met meel. Meng die meel, koeksoda, sout en kaneel.

Klits die suiker, olie en eiers baie goed saam tot lig. Roer by die droë bestanddele. Voeg die wortels, neute en gemmer by en meng goed. Gooi in voorbereide pan(ne) en bak vir 40-60 minute tot gaar. Laat vir 10 minute in die pan(ne) afkoel en keer uit op ’n draadrak om heeltemal af te koel.

Pynappelblomme: Sny die skoongemaakte pynappel in die dunste skyfies moontlik. Druk elke skyfie goed droog met kombuispapier en pak die skyfies in ’n enkellaag op bakplate wat met bakpapier uitgevoer is. Droog dit in die oond uit teen 100 °C. Draai dit ná 40 minute om en droog vir nog 30 minute.

Haal uit die oond en sit elke blommetjie in ’n holte van ’n muffin- of kolwyntjiepan (of in eierkelkies as die blommetjies baie klein is) om dit ’n mooi vorm te gee. Sit terug in die oond en droog verder uit tot heeltemal droog. Laat afkoel en bêre in ’n lugdigte houer tussen lagies waspapier.

Versiersel: Verroom die botter en versiersuiker saam. Voeg die roomkaas by en klits deur. Voeg die esdoringstroop by en klits tot glad. Verkoel vir twee uur voor gebruik.

Om saam te stel: Sny elke koeklaag middeldeur om twee dunner lagies te vorm. Stapel dit opmekaar met roomkaasversiersel tussen elke lagie en bo-op. Rond af met pynappelblomme. Lewer 16-20 porsies.

Wenk:
As jy roomkaasversiersel maak, maak seker jy koop roomkaas en nie geroomde maaskaas nie. Die vetinhoud van geroomde maaskaas is te laag en die versiersel sal pap en loperig word. Dis ook raadsaam om die roomkaas vooraf te klop tot glad. Roomkaas is geneig om klein klontjies te vorm as jy dit regstreeks uit die bakkie by ander bestanddele voeg. Verkoel die versiersel voor jy dit gebruik.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.