Die prys het van ’n hoogtepunt van $18 675 gedaal tot ’n laagtepunt van $10 354 in Januarie 2018. Dit verteenwoordig ’n daling van 44,5%. 

Daar kan met reg gevra word of bitcoin se prysborrel gebars het. Dit is egter nie net bitcoin se prys wat gedaal het nie.

Etherium, ’n ander kriptogeldeenheid, se prysdaling in dieselfde tyd is sowat 20%.

Etherium se prys het natuurlik in die voorafgaande twee jaar nie naasteby so baie gestyg soos die prys van bitcoin nie.

In Januarie 2018 was rippel, nóg ’n kriptogeldeenheid, se prys in ’n stadium meer as 70% laer as sy hoogtepunt in Desember 2017.

Faktore wat bydra tot die prysdaling in dié kriptogeldeenhede, en veral in die geval van bitcoin, sluit in:

  • Korea: Die land is die derde grootste mark vir kriptogeldeenhede. Owerhede in Korea het aangedui dat sekere beurse moontlik toegemaak gaan word. Dit is selfs genoem dat verhandeling heeltemal stopgesit kan word. Wat wel in hierdie stadium seker is, is dat Koreaanse beleggers vanaf 30 Januarie 2018 nie meer anonieme bankrekeninge sal kan gebruik om kriptorekeninge te finansier nie. Dit word gedoen om geldwassery hok te slaan.
  • Bitcoin gaan voortaan op minder verhandelingsplatforms as ’n betaalopsie aangebied word. Steam, ’n digitale verspreider wat onder meer “video streaming” doen, het in Desember 2017 aangekondig dat bitcoin nie meer aanvaar sal word as betaalmiddel nie.

Blykbaar is hoë koste en die lang wagtydperk vir oorplasings tussen kriptobeurse ’n probleem. As meer verskaffers Steam se voorbeeld volg , sal dit uit die aard van die saak ’n groot terugslag vir beleggers wees as bitcoin nie meer as betalingsmiddel  gebruik kan word nie.  Die ander twee funksies van geld –  ’n eenheid van berekening en die beskerming van waarde – kan effe ondersteuning aan bitcoin se prys bied.   

Waar los die bostaande beleggers in kriptogeldeenhede?

  • Diversifiseer: Koop die vier grootste kriptogeldeenhede, nie net een kriptogeldeenheid nie. Daar kan op https://coinmarketcap.com/ gesien word wat die grootste kriptogeldeenhede is.
  • Soos altyd is die volgende algemene punte van toepassing: Daar moet nie meer as 5% van ’n belegger se totale portefeulje in kriptogeldeendhede belê word nie. Verhandelings in kriptogeldeenhede moet slegs op kriptobeurse geskied. Plaaslike beurse sluit in Luno en Ice3X. Oorsese beurse sluit in Coinbase, Kraken en Poloniex.  

Edwin Smit is ’n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ’n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer van die FSB, met lisensienommer FSP 39889, en ook ’n geregistreerde finansiële / Yield-X handelaar op die JSE by BVG Commodities (lid van die JSE). Hy praat Maandae om 18:45 op RSG Geldsake. Sy kontakbesonderhede is, e:pos: edwin.smit@bvg.net of tel. 012 484 4013.

Die volgende dienste word gebied:

  • Wisselkoersverskansing op BVG se Yield-X-lisensie (JSE). Lesers kan inteken op die daaglikse valutaverslag.

  • Die ruil van fisiese kontant met die samewerking van Absa en Investec: Omskakeling van rande na dollars, euros en ponde, en omgekeerd.
  • Aandele-portefeuljebestuur met die samewerking van Momentum SP Reid Securities. Lesers kan inteken op die daaglikse aandeleverslae.