Kriptogeldeenhede is hier om te bly. Die blokketting-tegnologie (block chain) agter hierdie geldeenhede gaan waarskynlik groot veranderinge en verbeteringe tot gevolg hê in die manier hoe transaksies in die toekoms gedoen word. Dit gaan egter waarskynlik nie die einde van banke en ander finansiële instellings beteken nie. Van hierdie instellings is immers reeds besig om dié tegnologie te bestudeer met die hoop om daaruit voordeel te trek.

In 'n vorige artikel is daar verwys na die moontlikheid dat piramideskemas rondom Bitcoin en ander kriptogeldeenhede kan ontstaan. In die artikel is nie die stelling gemaak dat Bitcoin self 'n piramideskema is nie.

Daar is partye wat beleggers probeer mislei met valse beloftes. Die doel is tipies om beleggers se fondse op 'n onreëlmatige wyse te bekom. Dit is hierdie partye se aksies waarna in 'n vorige artikel verwys is as piramideskemas.

In korrespondensie ontvang van lesers is syfers genoem wat aan sommige beleggers voorgehou word. By een so 'n geleentheid is die stelling gemaak dat 'n opbrengs van 14% per week verdien kan word. Dit was blykbaar reeds in die voorafgaande ses jaar bereik. Kan dit wees?

Dit maak altyd sin om 'n raamwerk te gebruik wanneer daar na opbrengssyfers gekyk word. Een so 'n raamwerk staan bekend as “efficient frontier”.  Dit kom in kort daarop neer dat rasionele beleggers opbrengs teenoor risiko opweeg.

Dié grafiek illustreer wat die jaarlikse verwagte opbrengs en risiko vir verskillende bateklasse is. Nou vir die ontnugtering: 'n Koop-en-hou-strategie in Bitcoin sou die afgelope ses jaar 'n verhoging in prys van $2,33 tot $ 8 159,37 gelewer het – 'n gemiddelde saamgestelde opbrengs van 295% per jaar! (Soos meeste lesers het die outeur ook uitgemis op hierdie geleentheid).

Beteken dit dat tradisionele finansiële modelle nie meer werk nie? Dié modelle is nie perfek nie, maar 'n afleiding wat gemaak kan word, is dat dié fenomenale opbrengs plaasgevind het te midde van hoë risiko.

As 'n belegger $0,01 belê het met die opbrengsyfers deur lesers genoem, sal die saamgestelde eindbedrag oor ses jaar $5 679,54 triljoen wees ($5,6 x 10^15) vir 'n saamgestelde jaarlikse opbrengskoers van 90 902,27%. Daardie hoeveelheid geld bestaan nie in Amerikaanse dollars nie, maar dalk wel in Zim dollars…

As bogenaamde syfer wel bereik kon word, sal die belegger dit sekerlik vir homself hou, of hoe?

Om te voorkom dat beleggers lang trane huil, moet die volgende in gedagte gehou word wanneer daar in kriptogeldeenhede belê word:

  • Lesers moet in hulle eie kriptorekeninge op 'n kriptobeurs belê. Daar moet nie sommer op enige platform belê word nie. Onthou, kriptobeurse word nog nie gereguleer nie, maar die samevoeging van geld word wel gereguleer. Kry ten minste die registrasienommer van 'n platform wat geld saamvoeg by 'n ekwivalent van die Finansiële Diensteraad (FSB). Hierdie advies geld vir enige geleentheid, ook dié wat binêre opsies bied.
  • Pasop vir beloftes van onrealistiese opbrengste – soos in bostaande som.
  • Diversifiseer. Moet nie net in een kriptogeldeenheid belê nie, belê in fraksies van die vier grootstes. Jy hoef nie in 'n hele kriptomunt te belê nie. Jy kan hier 'n lys van die grootste kriptogeldeenhede vind.
  • Daar is nog nie regulasies spesifiek vir kriptobeurse nie. Moet dus nie sommer op enige kriptobeurse belê nie. Beurse waar daar in rande belê kan word, sluit in Luno, wat veiliger blyk veilig te wees as gevolg van Naspers Bpk en Rand Merchant Investment Holdings Bpk (RMI) se betrokkenheid, en Ice3X
  • Bostaande beurse se pryse is soms duurder as die van ander beurse. Gepraat van oorsese beurse, Kraken word ook beskou as een van die veiliger opsies.

Edwin Smit is 'n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ’n gemagtigde finansiële diensteverskaffer van die FSB, met lisensienommer FSP 39889, en ook 'n geregistreerde finansiële en Yield-X-handelaar op die JSE by BVG Commodities (lid van die JSE). Hy praat Maandagaande om 18:45 op RSG Geldsake. Kontak Edin by 012 484 4013 of edwin.smit@bvg.net.

Die volgende dienste word gebied:

Wisselkoersverskansing op BVG se Yield-X-lisensie (JSE). Lesers kan inteken op die daaglikse valutaverslag

Die ruil van fisiese kontant in samewerking met Absa en Investec: Omskakeling van rande na dollars, euros en ponde, en vice versa.

Aandele-portefeuljebestuur in samewerking met Momentum SP Reid Securities. Lesers kan inteken op die daaglikse aandeleverslae.